DIE TENT.
(Colin Lamont)

Ons lewe vandag asof in 'n tent. 2 Korinthiërs 5:1-5 leer ons: "Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar 'n tent is, afgebreek word, ons 'n vaste gebou in die hemel het. Dit is 'n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan. Terwyl ons in die tentwoning leef, sug ons, want ons verlang daarna dat ons woning uit die hemel ons sal oordek. Ons wil nie ontklee wees en naak voor God staan nie. Ons wat nog in die tentwoning is, sug en voel bedruk omdat ons nie van die aardse liggaam afstand wil doen nie; ons wil die hemelse bo-oor die aardse aantrek, sodat wat sterflik is, verteer kan word deur die lewe. Hy wat ons vir hierdie oorgang voorberei het, is God. As waarborg hiervan het Hy ons Sy Gees gegee." (Lees asseblief die hele 2 Korinthiërs 5 ter ondersteuning van die uitgewysde Skrifgedeelte.)

Uit hierdie lesing van Paulus kom die volgende aspekte na vore wat op ons as God se kinders vandag in ons aardse tent woning van toepassing is:
* Daar is reeds by God 'n woning vir ons gereed gemaak wat vir ewig sal bly staan.
* God het alreeds vir ons 'n oorgang van die tydelike na die ewige voorberei.
* God se waarborg hiervoor is Sy Heilige Gees wat Hy ons gegee het.
* Ons is altyd vol moed.
* Ons wens is om te lewe soos Hy dit wil.
* Ons gaan almal voor die regterstoel van Jesus Christus verskyn.
* God ken ons eerbare bedoelings.
* Die liefde van Christus dring ons.
* Ons lewe nie meer vir onsself nie, maar vir Christus.
* Ons beoordeel niemand meer nie.
* Ons is nuwe mense wat aan Christus behoort.
* God het ons deur Christus met Homself versoen.
* Die bediening van die versoening is aan ons toevertrou.
* Ons oortredinge word ons nie toegereken nie.
* Ons is gesante van Christus en dra Sy versoeningsboodskap uit na ander mense.
* Deur ons eenheid met Christus word ons deur God vrygespreek.

God se Woord belowe dat almal voor Christus se regterstoel gedaag gaan word. Dit is nie die finale oordeel vanaf die groot wit troon waarvan Openbaring 20:11-15 vertel nie; by daardie geleentheid word mense veroordeel vir hulle sonde, en Christene is van daardie oordeel vrygespreek op grond van Jesus se verdienste aan die kruis. Voor Christus se regterstoel word gelowiges beoordeel: of die arbeid wat 'n persoon na sy of haar bekering verrig het, beloning verdien of nie.

GEBED: Dankie, Vader, dat U genade geen veroordeling inhou vir hulle wat in Christus Jesus is nie. Amen.