|
KOS EN
KLERE.
(Louis Nel)
LEES: Lukas 12:22–34.
Ons het op 'n stadium na 'n vertoning gaan kyk van die flambojante kunstenaar, Nataniël.
Toe hy die verhoog opstap het hy 'n lang swart jas aangehad, versier met allerhande
kleurvolle fieterjasies. 'n Middeleeuse prins sou maar saai gelyk het in vergelyking met
hierdie kleurvolle karakter. Later het hy die jas uitgetrek (natuurlik gevrek van die
hitte!), en in nóg 'n bloedrooi uitrusting geparadeer, met natuurlik dáái leerbroek van
hom. Die rooi gewaad het naderhand óók te warm geword en toe hy díé uittrek, toe blink
hy erger as 'n krismisboom. Hoe die arme man dit kon uithou met al hierdie klere bo-oor
mekaar, weet nugter!
En toe lees ek vanoggend se Skriflesing en ek dink aan miljoene mense rondom ons wat
skaars klere het om aan te trek - brandarm mense wat niks in die lewe het nie. Wat 'n
teenstelling met gister se oordenking waar die skatrykes onder die hamer gekom het. Ja,
ons sien hulle elke dag en draai dan maar ons kop eenkant toe om hulle nie te kan sien
nie.
Maar dikwels word ons sélf geraak deur swaarkry. Ek en my gesin is ook deur diep
driwwe, waar ons op een laagtepunt van turksvye alleen moes lewe. Daar was net nie
meer ander kos nie. Maar die Here het die turksvye voorsien en hulle was lekker! En ons
was dolgelukkig!
In vanoggend se perikoop onderrig Jesus Sy volgelinge. Gister het Jesus gewys dat 'n
mens nie op rykdom alleen kan vertrou nie. Vanoggend sien ons dat mens jou nie moet
bekommer oor jou lewensstandaard nie. Jy moet eerder jou prioriteite regkry en
eerstens jou lewe inrig soos God dit wil hê. Dit is immers binne God se vermoë om die
lewe te onderhou en 'n lewensstandaard te verseker.
Jesus begin met die opdrag: Moenie bekommerd wees oor kos (jou lewe) en klere
(jou lewensstandaard) nie. In die natuur kan jy sien hoe God vir die voëls kos gee en die
plante met pragtige blomme versier. As ek hier by my venster uitkyk dan oorweldig die
blommeprag my met kleure wat ou Nataniël se gewaad laat vaal lyk. Aangesien ek en jy
meer werd is as voëls en plante, hoef ons as gelowiges ons nie te bekommer oor of ons
die lewe sal hou of ons ons lewensstandaard sal kan handhaaf nie. Dit is alles sake wat vir
God in Sy almag kleinighede is.
In plaas daarvan om ons te bekommer oor ons lewe en ons lewensstandaard, moet ons
ons beywer vir God se koninkryk. Dit beteken dat jy al jou energie moet gebruik om te
sorg dat jy só lewe dat ander kan sien dat jy God as Koning erken. Dan hoef jy nie
bekommerd te wees nie, want die Koning van die koninkryk sal vir jou sorg! God se sorg
beteken nie dat jou lewe nooit bedreig gaan word of dat rykdom en 'n hoë
lewensstandaard vir jou verseker is nie. Dit beteken eerder dat jy nie kosbare energie moet
mors om jou daaroor te bekommer nie. Gebruik wel die insig wat God jou gee om die
nodige maatreëls te tref om jou lewe te beskerm en jou lewensstandaard te handhaaf of te
verbeter. Los dit dan in God se hande en sorg dat jy jou lewe inrig soos wat Hy dit wil
hê.
"Verkoop julle besittings" (12:33) moet verstaan word teen die agtergrond van wat
Jesus in 12:21 gesê het. In plaas daarvan dat jy jou energie vermors om jou te bekommer
oor kos en klere, moet jy eerder jou kos en klere gebruik om minderbevoorregtes te
help. Só wys jy dat jy jou "beywer vir die koninkryk van God".
'n Mooi, sorgvrye dag bid ek jou toe.
|